K1400 Owners Group of SA logo

K1400 Owners Group of SA

ZX14 BLOG

Since 2008

ZX14 Blog

Die GTR, die Truksvy, en die grondpad.



 

"Wanneer ry ons weer bietjie bike?" Dis 'n Woensdag aand laat in Augustus 2020, en Besig tik my op die skouer toe ek haar nie dadelik antwoord nie. "Bike ry? Waarheen?" vra ek. Vir die wat nie weet nie, Augustus in die Vrystaat is dit nog koud, en ek is moeg koud gekry. Sy gee duidelik nie om nie. "Enige plek, solank ons net ry. En met ons GTR, want ek wil lekker ry," vertel sy my. Ek probeer 'n draai in-en-om Bloemfontein aan haar verkoop. Later gooi ek 'n Wimpy breakfast by die deal in, maar Besig skuld haar kop nee terwyl sy nog 'n sluk wyn vat. Ek sien ek gaan nie wen nie. "Nou maar hoe vêr wil jy dan nou ry?" vra ek effens moedeloos. Sy sê 50km is te kort, en meer as 100km is te ver. So dis net 20 minute op die groot Kawa as jy styf vashou, dink ek... maar ek sê dit nie hardop nie. Raait, ek sal môre kyk of ek iets hier naby kry. Besig klap drie keer vinnig haar hande, stap in die gang af, en verskyn later met ons Sharks en skoonmaakgoed in haar hande. Ek rol my oë aspris terwyl ek die koue wyn in my mond proe - binne in my, glimlag ek skelm van opgewondenheid.

 

Die volgende oggend teen nege uur kry ek 'n boodskap dat ek moet "Onthou om te kyk!" Ek kyk. Ek sien niks. Twee ure later sien ek 'Truksvy' is 52km van ons huis af, en meer belangrik, hulle verkoop bier. En ontbyt. En ek hou baie van eet. Sover klink dit perfek, en hulle is nogal Saterdae oop. Daardie aand vra Besig: "En??" Ek vertel haar van my planne. Sy lyk redelik beïndruk. "Ek dink daar is 'n stukkie grondpad tot daar," vertel sy my. Sy is weer reg. Op Google Maps lyk dit soos die laaste 3km van die pad. Ons het al so bietjie grondpad gery, maar baie stadig. Ons behoort dit maklik te maak man - dis net 3km!! Ons sal dit stadig vat. Ons besluit Saterdagoggend haal ons (ek...) die Silwer Valk uit, ons gooi die handsak met ons brille-en-pille in die topbox, en gaan kyk hoe Truksvy lyk. Besig klap weer hande.

 

                                                                                    
 

Saterdag oggend stoei ek die fiets uit die garage uit, en teen die tyd dat die bande gepomp is en hy buite staan, het ek miltsteek. Besig kom uit die huis getrippel, met die handsak en 'n bottel water, en sit dit als in die topbox. Sy neem foto’s. Ek moet langs die bike staan vir dit. "Is jy reg??" vra sy met haar groot glimlag. Ek dink so. My maag voel snaaks. Asof iets pla. Is die 'n goeie idee? Ek wonder ook skielik of ek wel die bande gepomp het. Ek swaai my been oor die groot 1400cc se saal, en voel sommer tuis toe ek afkyk en sien hoe die twee rooi naalde heen en weer swaai voor ek die aansitter druk. Teen die tyd wat ons by die eerste verkeerslig stop, is ek van vooraf verlief op die groot Kawa! Ek giggel benoud in my helmet, en voel hoe bewe ek in my bors. Dis 'n golf van oortollige krag wat voel of dit nooit ophou nie, en die Silwer Valk weet nie eers ons is twee op hom nie. Alles op die pad om ons, kan ons agterlaat met 'n draai van die regterhand. Dis koel buite. Dis windstil. Dis stil in my kop. Voel of ek vlieg. Alles is perfek. Dit gaan 'n wonderlike oggend wees...

 

So 20km verder sien ek 'n lig in my spieëltjie wat al nader kom, en kort voor lank dreun 'n GS by ons verby. Ek wonder hoekom hy nie staan en ry nie... Besig druk my dadelik in die sye, en ek trap terug 5de toe. Ons bekyk die man lekker hier van agter af, wat natuurlik al platter en platter lê, maar daai BMW kan nie onder ons uit kom nie. Ons afdraai kom egter nader, en ek hoor hoe Besig hier agter lag soos ons stadiger ry. Ek lag self lekker soos die adrenalien in my bedaar en ek die flikkerlig na links aansit... min weetend dat my ma se woorde binnekort gaan waar word: “Van lekker lag... kom lekker huil.”

 

Ek draai die swaar Kawa se neus na die grondpad, en probeer 'n lekker konstante spoed in 2de rat hou. Die eerste vyftig meter of so was nie sleg nie, maar skielik is ons op 'n stuk sinkplaat pad wat reguit uit die hel kom! Ek kan nie stadiger nie, want dan staan ons so-te-sê stil. Ek kan nie vinniger nie, want dit voel of die handlebars uit my hande gaan skud. Elke ruk en pluk laat my regterhand natuurlik ook ruk en pluk, en nou bokspring die Silwer Valk nog erger!! Ek kan nie mooi sien van al die vibrasie nie, en ek kruip-kruip meer na die middel van die pad toe in 'n poging om uit die hel te kom, onwetend dat ek al nader aan die dik streep gruis beweeg. Skielik word die geskud vervang deur 'n gil hier van agter af soos die groot fiets heen en weer ploeg deur swaar dik gruis. Ek sien nou my visor is vol wasem, maar ek kan nie my hand oplig om hom oop te maak nie. Ek kry dit wel reg om te skree "Ons gaan val Baba - kies watter kant!!" waarna daar natuurlik nog meer wasem is waardeur ek probeer sien. Ons is uit die dik gruis terug op die sinkplaat. Ek probeer bietjie viniger ry, maar ek kan nie. Dit voel of die hele fiets uitmekaar gaan breek. As ek afkyk lyk dit of ek of 20... of 40... of 10 ry - ek kan nie sien nie so bewe als. Die afstand meter kan ek glad nie sien nie, en ek kan nie besluit of dit 'n goeie of 'n slegte ding is nie. Ek sien 'n wit bakkie wat van voor af kom, maar kan niks verder registreer nie. Ek wou dink die ou waai sy arm by die venster uit of iets, maar ek weet nie eers watter fabrikaat bakkie dit is nie, wat nog van handtekens uitken. Ek voel hoe nat raak my lyf onder my baadjie, en hoe loop die sweet teen my voorkop af. Hier agter is Besig doodstil. Sy probeer so stil as moontlik sit, terwyl ek 500kg op twee dun padbande probeer regop hou. My skouers pyn van die geskud, en ek kan nie meer my hande voel nie. Die pad draai hier voor. Dink ek. Dalk raak dit daar beter. Ongelukkig vir ons, is die draai gebank na links, en die sinkplaat skud-trek ons af na onder waar daar massas dik gruis lê. Die arme GTR snake so heen en weer oor die pad, dat ek dit begin oorweeg om op te gee. Dalk moet ek net los sodat ons kan val en dit verby kry. Besig klou. Sy sê niks. En net daar hou dit op! Stilte. Niks skud meer nie. Die sand is wel dik, maar ek kan nou my hand optel om my visor op te lig. Ek soek vir 'n plek in die pad waar daar minder klippe is sodat ons kan stop. Besig klim af, trek haar helmet af, en sê "Liewe bliksem!" Ek kry nie die side stand uit nie - alles aan my lyf is óf morsdood, óf dit bewe. Ek hang my helmet aan die spieëltjie en staan met my hande op my knieë, terwyl ek opkyk na Besig. "Nee fok…" is al wat sy uitkry. Ek vra sarkasties of sy foto’s geneem het, maar sy beduie na die topbox en maak 'n beweging met haar hand wat my laat verstaan sy soek die sleutel. Na die derde sluk water, kyk ons om ons rond. Waar is ons?? Ons staan langs 'n gebou waarop 'SAPS SOUTPAN POLICE STATION' staan, en agter ons kom 'n donkiewa stadig verby gery. Ek lig my regterhand, wat nou so van die naalde steek, stadig op om die man te stop. "Môre my lanie!" groet hy vriendelik. Hy wys met sy sweep na die GTR: "Djy kan mossi met a spietbike hier loop staan ry nie lanie?" Ek probeer nie eers verduidelik nie. Ek sê vir hom ons is opsoek na Turksvy, waarna hy omdraai op sy hout bankie, en anderkant toe wys: "Djyt heeeel by hom verby gegat my lanie, hy is terug die-kaaant toe." Ek voel hoe die lewe onder by my boots uitloop. Ek vra hoe ver, waarop hy iets geantwoord het wat ek nie kon hoor nie. Al waaraan ek kon dink is die pad van die hel waarop ons moet terug. Ek sê dankie, groet hom, en draai om na Besig toe. Sy sit die waterbottel terug in die topbox, gee vir my die sleutel, en sit haar helmet op. "Net 600 meter, ons kan dit maak," sê sy. Ek draai die GTR met 'n 18 punt draai op die grondpad om, en wys vir Besig sy kan opklim. Ek sug diep voor ek die aansitter druk, en maak seker my visor is die keer oop. Na slegs 240m se los sand, draai ons regs af en ry in die dorpie se effe-beter grondpad af. Nog 400m af in die straat, sit Truksvy aan ons regterkant. Ons klim doodstil af, niemand sê 'n woord nie. Ek probeer die fiets op die centre stand kry, maar sê later saggies "Ag fok dit," en laat staan die ding op die side stand. "Môre môre!! Welkom hier by ons!" klink 'n stem hier bo van die stoep af. "Hoekom lyk julle so bleek? Die pad is maar nie maklik nie neh - selfs die GS-manne kom bleek en stukkend geval hier aan. Koffietjie vir julle?" Ek kry net "bier" uit terwyl ek teen die trap op sukkel en op 'n stoel gaan sit. Ek vra vir pynpille uit die handsak uit, maar die Lenadols is nou poeier in die houertjie geskud. Ek gooi so bietjie in my mond en sluk met die bier af, soveel so dat my mond en neus vol poeier is soos iemand wat nou net 'n lyn gesnuif het. Besig neem braaf nog 'n paar foto’s, terwyl ek op Google Maps kyk of die pad 3km of 30km lank was. En of daar dalk 'n ander pad is, want die vet weet, ek sien nie kans om weer deur daai trauma te gaan nie. "Wat gaan ons maak om by die huis te kom?" vra Besig toe sy hier langs my kom sit. Ek besluit ek moet weer begin rook, en terwyl ek in stap opsoek na 'n 'los-draw', antwoord ek kort: "Ek weet nie..." Met die rook wat ek stadig uitblaas, kyk ek daar in die verte na niks, en besluit daar en dan ek gaan my broer bel. Dié het mos 'n bakkie. As hy nou met die bakkie kom, kyk ons of ons die GTR bo-op die bakkie kan kry, en so weer terug in Bloemfontein kan kom. Klink soos 'n plan. 'n Kak plan, maar dis 'n plan.


                                                                               

 

                                                                                         
 

Ons bestel ontbyt, maar my maag is in so 'n knop gedraai dat ek dit saam met 'n Coke moet afwurg. Ons vra vir die rekening. Met die betaal slag vra die dame of ons die ander pad gaan terug ry. Ander pad?? Watse ander pad? Sy vertel daar is 'n pad wat so tussen die soutpanne loop, en dan later by 'n hoofpad aansluit. Op die hoofpad (ook grond) is dit dan ongeveer 3km van die teerpad af, in totaal so 7km lank. Sy dink die pad is bietjie mooier as die een waarmee ons gekom het. Ons staan later langs die Silwer Valk, en wonder steeds: Vat ons maar weer die pad van hel wat ons ken (en slegs 3km lank is) of vat ons 'n pad wat dubbel so lank is, maar dalk beter is? Ons besluit ons sien eenvoudig nie weer kans vir daai pad nie, so ons moet die nuwe, langer pad probeer. Besig klim op, en ons stoei verder af in die sinkplaat straatjie tot net buite die dorp en tussen die soutpanne. Ek sien lig, want die nuwe grondpadjie is seepglad en kliphard. Ek is naderhand in 4de rat en ry so tussen 80 en 100km/h. Ons gemoedere is sommer dadelik beter. Besig het die foon uit en neem weer foto’s. Hier en daar was 'n slegte plekkie, maar ons kon goed ry tot by die hoofpad. Daar was dit ook maar sinkplaat en los gruis, maar nie naastenby so erg soos op die ander pad nie. Sonder drama bereik ons die teerpad... en dis hemels! Ek was lanklaas so dankbaar vir 'n smal Vrystaatse teerpad met slaggate. Nou waar hy hoort, sweef die groot GTR met gemak tot in Bloemfontein, en teen middagete is hy terug in die garage en ons warm motorfietsklere is uitgetrek. Ek gooi vir ons 'n wyntjie en kyk op na Besig waar sy deur die dag se foto’s sit en kyk. "Nooit ooit in my hele lewe, ry ek weer grondpad met die fiets nie - ek was amper dood!" sê ek gedaan. Sy antwoord niks terug nie. Na 'n rukkie sit sy die foon neer, vat 'n sluk wyn, en vra: "So… waarheen ry ons volgende Saterdag?"

 

                                                                                        

 

Other Blogs From The Author