FJ Snijman

Since 2008

ZX14 Blog

IS BIKE RALLIES....NOG BIKE RALLIES?

 

Ek het 'n 6 cylinder Honda CBX gehad. 'n Rooi een. Dis met hom wat ek my eerste bike rally bygewoon het. Die Rhino Rally, Christiana, 23 jaar gelede. Bike SA het dit daai tyd aangebied, met die leuse "Everyone goes to the Rhino". En almal het. Dit was sekerlik die grootste rally in die land, met die meeste bikes, die meeste mense, en die grootste pryse. Ek onthou die groot prys daai jaar was 'n splinter nuwe Hayabusa! Ek was jonk. Dom. Sterk. Alles was moontlik. So sonder lisensie, met min geld, min klere ingepak, my nuwe bike baadjie aan my lyf, en my ou tekkies aan my voete, ry ek saam met 9 ander manne Rhino toe. Ons gaan bikers wees...

 

Besig laat sak haar foon toe sy my in die oë kyk: "Was jy al by 'n rally?" Ek weet wat kom, en ek's nie lus vir dit nie. Ek vertel hoe ek al vir Sarel van der Merwe, Serge Damseaux, en al daai manne sien jaaa het, maar was self nog nooit by 'n rally nie. "Man, 'n Bike Rally! Jy weet goed wat ek bedoel." Ek sien al die motorfiets prentjies wat sy op haar foon sit en kyk. Ja, ek was al by 'n paar gewees. "En?? Hoe's dit?" vra sy. Ek sal jou baie leeswerk hier spaar, maar ek wil net sê ek het regtig hard probeer keer, maar tevergeefs - drie dae later het sy kaartjies. En verblyf. In Rustenburg. Op die site. In 'n blêrrie tent! Poison Rally, 2023. Ons gaan bikers wees...

 

Ek ken 'n paar regte bikers. Ek bedoel nie die Sondag oggend 30km gou-ry-vinnig-breakfast bikers soos ek nie, ek bedoel bikers met tattoos en kettings en ringe en "cuts" met baie badges op. Regte bikers! Benoud vra ek so 'n regte biker by die kantoor of hy Poison toe gaan. Nee, seg hy. Ek gryp my foon en soek desperaat na 'n naam van 'n regte biker wat ek ken, want alleen daar gaan ek geryp raak. Nou Org is nie jou maat nie. Hy vertel jou sommer gou. En vir jou maatjies ook. Hy het ringe. Baie. Tattoos ook. Baie. En hy is 'n President. Van watter land die weet ek nie, maar dit staan so op sy baadjie. Ek stuur hom 'n Whatsapp: "Hey Org. Hoe lyk dinge. Lanklaas gesels. Man, hoorie...gaan jy dalk Poison toe die jaar?" Hy antwoord net "Ja". Dis die man. Die man wat my en my beminde gaan beskerm. Red van regte Rally Bikers. Ryp, bloed, en hospitaal rekeninge kan hy voorkom. Na nog 'n paar boodskappe daai aand, voel ek verlig dat ons saam met Org ry, en saam met regte egte bikers gaan bly. Al is dit dan nou in 'n 1.7 man tent, met twee kak strechers in.

 

Org wil 07:00 op die pad wees. Ek praat nie terug nie. By die rally aangekom, let ek wel die volgende verskille dadelik op:

 

Deesdae kry jy 'n plastiek armbandjie in 'n vrolike kleur om jou toegang te gee tot die site, nie meer 'n pers ink stemple op jou voorkop nie. Dis fraai.

 

Jy stop nou by die ingang vir 'n foto van jouself op jou bike, nie meer vir iets ongoddelik sterk uit 'n klein glasie wat jy moet drink, waarna die ou jou skouer lam klap en "Welkom!" skree nie.

 

Mense puff stylvol aan "vapes" en stap netjies langs die pad in rye. Niemand spring meer voor jou in, hou 'n handgerolde zol voor jou en vra "soek jy draw?" nie. Ek haal toe sommer net daar my vape ook uit. Ek voel klaar in.

 

Daar is nou drank per glas by die kroeg te koop. Jy hoef nie meer 'n hele bottel of 'n 6 pack op 'n slag te koop nie. Ek wou, maar dis blykbaar "barbaars" volgens die dame agter die toonbank. Ek vat toe 'n Flying Fish.

 

Tente is nou te huur en word namens jou opgeslaan. Met beddegoed. En twee stoele. Jy hoef nie meer binne in jou tent sak te slaap, omdat jy nie "E8" (wat daai dik lang stok in die opslaan

instruksies is) kan kry nie. Ek hou hiervan. Al ruik dit soos army.

 

Daar is nou 'n program. Met tye. Jy kan dit op die Tubes, of FaceSpaceX, of blykbaar in 'n tipe wolk kry. Vroeër het jy maar gehoop jy kry iets te sien. Êrens. Almal het wel geweet waar en wanneer die wet T-shirt kompetisie en die Mej Perky Tits besigheid gehou gaan word. Ek het voor gestaan.

 

By die gedoente is daar ook altyd "stunts" wat gehou word. Meestal mans wat KAN bike ry. Hulle sukkel nie om die bike regop te hou soos ek nie. Hulle doen dan burnouts en wheelies en stoppies en sulke tipe shit. Hier was daar 2 ouens wat power wheelies gedoen het, en so lafhartig 'n "spaar-my-band burnout" probeer het. Op die Rhino was daar 22 ouens wat langs die bike kon hol gedurende 'n wheelie, en 6 wat hulle velle af geval het. 4 Bikes het uitgebrand, en een het in 'n boom beland. Niks meer van dit nie. Health and safety I guess.

 

Daar is nou 'n magdom kos stalletjies. Pannekoekies. Gevulde hotdog rolletjies. Kerrie disse. So geel karrietjie met elke moontlike chip in. 'n Smoker so groot soos 'n water tenker, waarin elke denkbare vleis stadig tot sag gerook word. Man... alles! Vroeër jare het jy in die groot tent "een meal!" geskree by die toonbank, dan kry jy so wit bakkie met kos in. Dan eet jy dit, en jy maak of dit lekker is.

 

Daar was 'n swembad. Eintlik twee, en albei was pragtig skoon. Mensies sit in kleurvolle swempakkies, rook vapes en sip aan 'n biertjie. Daar was die keer nie ouens wat burnouts in die swembad gemaak het nie, en daar was ook nie bikes wat binne die swembad beland het nie. Ek het dit nogal waardeer. Maar gemis.

 

"Concours" is waar ouens hulle blink en mooi fietse uitstal. Jy weet, iets skaars. Of weird. Ek is nie seker waar dit eintlik gehou was nie, want ek het net 3 of 4 mooi fietse sien staan tussen 'n klomp ander "plain" bikes. Al 3 van hulle het seker gewen, want daar was te min kompetisie. Ou rallies was daar seker 20, 30, 40 bikes wat afgeskort in die "Concours Area" gestaan het. Vergeet van "Don't Touch" - as jy te lank gekyk het, het jou ore gebrand. 'n Ou tire, die geroeste ou plug socket, en die vervrommelde owners manual wat saam met die fiets gekom het, was ook netjies langs hom uitgepak. Ek mis dit. Daai passie. Die detail. Die moeite. Hierdie keer was almal meer nuuskierig oor die Slap Fighting wat daarna plaasgevind het. Ek wou 'n CBX gesien het. Of 'n Z1300. Of 'n NSR250R.

 

Een ding het nie verander nie. Taal gebruik. Liewe bliksem, nee. Die F en P woorde word 18 keer gebruik in 'n sin wat uit net 10 woorde bestaan. Dis nou nie almal nie, maar jy hoor dit die hele tyd. Dis lastig. Die fok weet.

 

"Wyntjie?" vra Besig toe ons by die huis kom. Ek's moeg, maar ek sien sy wil nou geselsies maak. Debrief. Unpack. Ek vra of ons kan gaan lê. Sy sê nee, en wys ek moet sit. "So...hoe wassit vir jou?" vra sy. Eerlik? Dis baie vêr om te ry vir sit op die gras, musiek luister, en wyntjies drink. Ek het nooit vir my lewe gevrees, was stom geslaan, of het 'n klomp special bikes gesien nie. Ook nie 'n fight nie. Iemand is blykbaar geklap, maar ek dink dit was per ongeluk. Dit was soos 'n Vrystaat Kunstefees musiek vertoning, net met baie mense wat almal swart aan het. Die rof is uit rally uit. Dis kalm. Normaal. Selfs dalk afgewater? Die mense was awesome! Gelag, baie! Almal help. Almal groet. Jy kry sommer 'n dop uit iemand se koeler uit wat jy nie eers ken nie. Mense hug mekaar, lag saam, en loop saam badkamer toe. Koop vir mekaar kos, en bied 'n sitplek aan. Niemand judge nie. Almal doen wat hulle wil doen, en hoe hulle dit wil doen. En dis fine. Met almal. Ek het daarvan die meeste gehou. Besig knik haar kop stadig, maar sê niks. Ek vra toe maar: "En vir jou?" Met wynglas in die hand, sê sy: "Befok! Ek het van alles gehou!! Wanneer gaan ons weer? Bel vir Org. Of moet ek?" Moedeloos draai ek om oppad kamer toe, sê niks nie. Daar uit die kombuis hoor ek "....en waar was al die naked mense en die boobs?!" O-ja, dink ek...dis nog iets wat verander het. Ook niks meer bederfies vir 'n moeë biker nie...

 

***Christoff Viljoen***

Google Group Forum
Other Blogs From The Author